SA soldate dalk gou na Afrika
2010-07-30 07:17
Kaapstad. - Pres. Jacob Zuma oorweeg die moontlikheid om soldate van die Suid-Afrikaanse weermag en die vloot in Somalië te ontplooi.
Lindiwe Sisulu, minister van verdediging en militêre veterane, het gister gesê só ’n besluit kan verreikende gevolge hê omdat dit beslis met lewensverlies gepaard sal gaan.
Dit hou ook gevolge vir Suid-Afrikaners tuis in. Die Somaliese terreurbeweging El-Shabab het op 11 Julie bomme in Kampala geplant uit wraak vir Uganda se betrokkenheid by die oorlog in Somalië. Meer as 70 mense is dood en nog 73 is tydens die aanvalle beseer.
Volgens Sisulu het die Afrika-unie (AU) nog nie amptelik versoek dat Suid-Afrika soldate stuur nie. “Maar die AU het gesê die lande wat kán – en hier word daar spesifiek na ons verwys – moet help, en ons (die regering) het ons daartoe verbind.”
Zuma het pas van die AU se leiersberaad in Kampala teruggekeer waar Afrikaleiers onderneem het om die AU-vredesmag in Somalië met nog 2 000 troepe uit Burundi en Guinee te versterk.
“Die president moet nog aan die kabinet verslag doen. Hy moet nog bepaal hoe en waar ons die AU sal bystaan,” het Sisulu tydens ’n informele inligtingsessie by die parlement gesê.
Enige hulpverlening hou finansiële gevolge in en die kabinet sal daaroor moet beraadslaag.
Thabang Makwetla, Sisulu se adjunk, het erken die weermag kan moontlik te min soldate hê weens sy betrokkenheid by vredesmagte in die Soedan en die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK).
Sisulu het egter volgehou die weermag het die vermoë, die gereedheid en die wil om betrokke te raak. Suid-Afrika sal die koste ook nie alleen dra nie.
“Maar die oorlog in Somalië is iets anders. Ons moet verstaan waarvoor ons ons inlaat.
“Die vraag is of dit in beste (nasionale) belang is. Dit sal met lewensverlies gepaardgaan en die publiek moet dit vooraf begryp.”
Volgens Makwetla is daar politieke druk op Suid-Afrika om hulp te verleen.
Sisulu het beaam Suid-Afrika het ’n verantwoordelikheid teenoor die res van die vasteland.
Die minister het ook bekend gemaak die aanvoorprojek oor nasionale diens vir die jeug sal teen September plaasvind.
Alle politieke partye se jeugorganisasies is genooi, maar net die ANC-jeugliga, die Jong Kommuniste en die jeugstruktuur van die PAC het die uitnodiging tot dusver aanvaar.
- Die Burger