Polisie martel glo sewe jong seuns
2010-03-14 07:25
Isaac Cloete en Henry Cloete, Rapport.
Kaapstad - ’n Klag van aanranding is aanhangig gemaak teen twee polisiebeamptes van Springbok nadat hulle na bewering met ’n knuppel sewe jong seuns se boude pimpel en pers geslaan het.
Hulle sou ook blykbaar die seuns met vuurwapens geïntimideer het.
Die seuns, van die woonbuurt Vaalwater by Springbok, is glo Dinsdag om die beurt deur die twee beamptes in die polisieselle op die dorp gemartel.
Dié beamptes is steeds aan diens.
Joshua Hoskins (14) is een van die seuns wat na bewering tot 20 houe met ’n knuppel en ’n groot sel-sleutelhouer toegedien is.
Hy het gesê hulle het laat Dinsdagmiddag met honde in die koppies buite die dorp vir kleinwild, soos hasies, gaan jag. Hulle het toe deur die middedorp huis toe geloop.
“Dit was al skemer. ’n Ambulansbestuurder het ons teëgekom en gedreig dat hy ons polisiekantoor toe sou neem as hy ons weer sou sien.
“Hy het later weer by ons kom stop, ons beveel om in te klim en ons polisiekantoor toe geneem.”
Hier is die seuns glo aangerand deurdat hulle oor ’n lessenaar moes lê terwyl hulle met die knuppels en sleutelhouers bygedam is.
Hulle moes ook glo fisieke oefening doen. Chad Siepelie (10), Joshua se jonger boetie, vertel een beampte het sy pistool uitgehaal en die patrone op die tafel uitgestal om hulle te intimideer.
“Hierna het hy die pistool gelaai en oorgehaal.”
Die seuns is ook glo gedwing om sigarette te rook en het ’n dosis pepersproei in die gesig gekry. Die seuns se trane het die beamptes glo laat skrik en hulle het gestop.
Hulle het glo die seuns ’n ent weg van hul huise afgelaai.
Joshua en Chad se ma, mev. Katy Siepelie, het ’n klag van aanranding teen die beamptes ingedien.
Sy het gesê een van hulle het om verskoning kom vra by hul huis, maar “die reg moet sy gang gaan”.
Kapt. Denver Cloete, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Hy wou nie besonderhede verskaf of sê wat die beamptes se motivering vir hul optrede kon wees nie.
Volgens Cloete is ’n departementele ondersoek van stapel gestuur. Die afsonderlike strafregtelike klag van aanranding sal eers later voor die hof kom.
“Ek kan nie nou die inligting in hul verklarings bekend maak nie.”
Hy sê bevindings van die departementele ondersoek sal aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gestuur word. Totdat daar oor die beamptes se toekoms besluit word, dra hulle nog die blou en geel.
- Rapport