Pa en seun geskiet
2010-01-01 06:55
Johannesburg - 'n 83-jarige man is doodgeskiet en sy seun gewond ná 'n onbekende persoon op hulle losgebrand het op hul kleinhoewe in Hartzenburgfontein, suid van Johannesburg op Vrydagoggend, het polisie gesê.
Konst. Ntshidiseng Phakwe het gesê die twee is kort voor 01:00 geskiet.
"Hulle het gaste op die kleinhoewe gehad. Toe die gaste die kleinhoewe omstreeks 12:55 verlaat, het die twee buite die huis gebly om op te ruim.
"Die 83-jarige man se vrou het gesê sy was besig om met die trappe op te gaan toe sy geweerskote hoor... toe sy terugkyk, het sy haar man en seun op die grond sien lê," het Phakwe gesê.
Die bejaarde man is op die toneel dood verklaar en die seun is inderhaas na 'n hospitaal geneem.
Die motief agter die voorval is nie bekend nie aangesien niks uit die huis geneem is nie, het Phakwe gesê.
"Geen inhegtenisname is gemaak nie, en ons ondersoek die saak," het sy gesê.