Huisrowers kry 15 tot 20 jaar tronkstraf
2010-07-29 21:23
Johannesburg – Twee mans wat ‘n vuurwapen op ‘n vrou in haar huis in Sandown gerig het terwyl hulle haar huis beroof het, is Donderdag in die Alexandra magistraatshof gevonnis, het die polisie in Bramley gesê.
Sibusiso Mthambo (24) is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis terwyl sy medepligtige Melusi Tshilu (25) tot 15 jaar gevonnis is, het ao. Moses Maphakela gesê.
Dié twee was deel van ‘n groep van vier mans wat Februarie by die huis in Sandown, noord van Johannesburg, ingebreek het.
Hulle het ‘n vuurwapen op die eienaar gerig en haar daarna met toue vasgebind.
Die mans het R25 000 se besittings gesteel en daarna gevlug.
Kort na die voorval is die polisie oor die rooftog in kennis gestel.
Polisie wat naby die huis gepatroleer het, het toe die twee mans gesien wat groot sakke dra.
Die polisie het hulle deursoek en in hegtenis geneem.
Die ander twee medepligtiges is nie in hegtenis geneem nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA