Sharks-losskakel skok met besluit
2010-02-12 07:33
In-diepte Verslae
Die voormalige WP- en Stormer-slot Ross Skeate, wat sy rugby tans in Frankryk speel, het 'n twee jaar kontrak met die Sharks gesluit.
Statistieke verskaf deur die Suid-Afrikaanse rugbyunie wys die aantal rooi en geel kaarte asook die meeste drieë gedruk én voorste puntemakers in die Super14-reeks.
Christo Buchner
Johannesburg - Sharks-rugby is Donderdag geskud deur die nuus dat die nuweling-losskakel, Steve Meyer, skielik besluit het om die spel vaarwel toe te roep.
Die 25-jarige Meyer, ’n oud-hoofseun van Kearsney College in die Natalse Middellande, is deur die Sharks vir twee seisoene vanaf die Franse klub, Perpignan, gekontrakteer nadat die Argentyn Juan-Martin Hernandez se Super14-seisoen deur ’n rugbesering kortgeknip is.
Die Sharks het Donderdag ’n sluier van geheimhouding oor die redes vir Meyer se skokbesluit getrek en in hierdie stadium is daar meer vrae as antwoorde rakende die aangeleentheid.
Selfs die afrigter, John Plumtree, het erken hy is onkant betrap deur dié skielike wending. “Hy sou Saterdag ons losskakel (teen die Chiefs) wees,” het ’n verslae Plumtree gesê. Die uitvoerende hoof, Brian van Zyl, het in ’n verklaring gesê Meyer het om persoonlike redes versoek dat hy van sy kontrak vrygestel word. Meyer het drie dae gelede nog op die Sharks se webwerf gesê om vir die Sharks te kan speel, is ’n “droom wat verwesenlik word”.
Meyer se besluit kom op ’n tydstip wat die Sharks negatiewe publisiteit ten alle koste sal wil vermy, veral teen die agtergrond van die toutrekkery tussen die Lions en die Durbaniete oor Willem Alberts (losvoorspeler) en Louis Ludik (heelagter/vleuel).
Daar word vandag in ’n hof besluit of Alberts wel deel van die Sharks se 22-tal kan wees.
Hy is Donderdag op die plaasvervangerbank gekies, met Monty Dumond wat die nuwe losskakel in Meyer se plek is. Ruan Pienaar begin die Super14-kragmeting met die Chiefs ook op die plaasvervangersbank – saam met nóg ’n Bok-agterspeler, Adrian Jacobs.
- Die Burger