Coetzee sien nou weer lig
2010-03-02 08:21
In-diepte Verslae
Die voormalige WP- en Stormer-slot Ross Skeate, wat sy rugby tans in Frankryk speel, het 'n twee jaar kontrak met die Sharks gesluit.
Statistieke verskaf deur die Suid-Afrikaanse rugbyunie wys die aantal rooi en geel kaarte asook die meeste drieë gedruk én voorste puntemakers in die Super14-reeks.
Louis de Villiers
Kaapstad - 'n Swakkerige vertoning in ’n naelskraapse nederlaag teen die Brumbies het darem nie die Stormers-rugbyspan se spangees gedemp nie, en daar was ’n paar brokkies goeie nuus toe die Kaapse streekspan Maandag in Bellville begin oefen het vir Saterdag se Super14-kragmeting met die stert-in-die-lug-Highlanders.
Sowel die flank en kaptein, Schalk Burger, as die sterk loskopstut Wicus Blaauw is slaggereed om hul plekke in te neem, terwyl daar ook sekerlik sprake was om ’n kalf te mes vir die verlore seun Adriaan Fondse, wat die eerste maal in maande saam met die senior span gespeel het.
Dié vurige slot sal nog nie vir die Highlanders-stryd oorweeg word nie, maar die Stormers meen hy sal in die volgende week of twee vir die Vodacombeker-span uitdraf om sy wedstrydfiksheid te herstel.
Met ’n bietjie geluk kan Fondse al teen die Cheetahs, die Stormers se laaste wedstryd voor hul oorsese toer, in aksie wees.
Andries Bekker het nie aan die lynstaan-oefening deelgeneem nie nadat hy Vrydagaand ’n stamp teen die been gekry het, maar dié hemelbesem sal Saterdag kan speel.
Hoewel die nederlaag van 17-19 teen die Brumbies ’n onnodige terugslag was, veral só vroeg in die veldtog, was die Stormers-breier, Allister Coetzee, gister aansienlik positiewer oor die span se vertoning as wat hy Vrydagaand ná die eindfluitjie was.
“Ek was maar kwaai teleurgesteld, maar toe ek die wedstryd weer gekyk het, het ek beter oor ons vertoning gevoel.
“Ons besluitneming was nie altyd watwaffers nie, maar ons het genoeg kanse geskep dat ons met meer geluk soveel as sewe drieë kon gedruk het.
“Ek dink die span is baie na daaraan om volgens hul potensiaal te speel – die afronding is eintlik al wat makeer en ons gaan baie aandag daaraan skenk.
“Ons was ongeduldig op die aanval en dit het ons die wedstryd gekos, maar soos die manne agterlangs meer gewoond raak aan mekaar se manier van dinge doen, gaan dié agterlyn moeilik wees.
“Daar sal foute begaan word, maar dis hoe jy leer.”
Coetzee was duidelik in sy noppies met sy span se suinige verdediging – tot dusver een van die snoepste in die reeks nadat hulle in drie wedstryde net twee drieë afgestaan het.
“Wat my veral hieroor verbly, is dat dit toon hierdie span het karakter, toewyding en is reg om vir hul doellyn te baklei. Dit wys ook aan ons ondersteuners dat die Stormers bereid is om hul liggame op die spel te plaas. En verdediging het eintlik niks met individue uit te waai nie, dis ’n ding vir die span as geheel.”
Coetzee verwag g’n gunste en gawes van die Highlanders nie, veral nie nadat hulle die Cheetahs Saterdag in Bloemfontein geskok het nie.
“Die weg-oorwinning sal hulle baie vertroue gee en ek dink nie hulle sal skrikkerig wees om ons aan te vat nie.”
- Die Burger