Suid-Afrikaners droom van WB rykdom
2009-11-12 13:40
Johannesburg – Van die rykste miljoenêrs in Kaapstad tot die eienaars van beskeie huisies in Soweto, talle Suid-Afrikaners droom om 'n bietjie kontant uit volgende jaar se sokker Wêreldbeker te maak.
Sommige mense is selfs bereid om vir die paar weke uit hul huise te trek, met die hoop om dit aan welaf besoekers uit te verhuur, en sodoende buitelandse valuta te maak.
Pryse van sekere woonstelle in Johannesburg en ook in ander omgewings het onlangs tot vier, vyf en selfs ses keer die normale prys gestyg, al het die meeste aanhangers nog nie besluit waar hulle gaan woon nie.
In Kaapstad vra sommige eienaars van luukse huise langs die strand tot R90 000 per dag, het Samuel Seeff, een van Suid-Afrika se top-eiendomsagente, gesê.
Sulke huise sal aan groot maatskappye uitverhuur word, meer spesifiek aan borgskappe van die Wêreldbeker, en sal vir vyf of meer uitvoerende hoofde bederf met swembaddens, jacuzzi’s, en binnenshuise videoskerms.
Aan die anderkant is daar huiseienaars in Soweto wat hul huise in gastehuise omskep het, en wat ook ook baie toeriste tydens die Wêreldbeker volgende jaar gedurende Junie en Julie verwag. Hulle beplan egter om so min as R350 per aand te vra.
Kenners meen winste op akkommodasie sal bepaal word deur waar groot spanne soos Brasilië, Engeland en Duitsland speel.
Die bestemming van elke span se wedstryde in die eerste rondte sal in Desember bepaal word.
Seeff is in vennootskap met Gary Bailey, voormalige doelwagter van Manchester United, en bemark privaat eiendomme aan Wêreldbeker besoekers. Maar volgens hom is sekere mense se verwagtinge onrealisties.
Hy het gesê die meeste besoekers wag eers vir die trekking om plaas te vind voor hulle begin om verblyf te soek.
Daar is glo sekere inwoners van Soweto wat hul huise afgebreek het om gastehuise te bou. Hulle sit nou sonder geld of besprekings.
- Reuters