Só weeg Div en Jake op
2010-07-29 07:34
In-diepte Verslae
Ondersteuners wat nie kaartjies vir die Drienasies-toets teen Australië het nie, kan lank wag om weer die Springbokke in Bloemfontein in aksie te sien.
Pretoria - Die tekens is daar, maar Springbok-ondersteuners moet hoop die span se afrigter, Peter de Villiers, volg nie in die voetspore van sy voorganger nie.
De Villiers en sy voorganger, Jake White, se statistieke as Bok-afrigters lyk tans baie eenders, maar met drie wedstryde oor vir die Springbokke in vanjaar se Drienasies-reeks kan De Villiers op White se vertonings verbeter.
Albei afrigters het in hul eerste jaar as afrigter ’n wensyfer van 69.23% (13 gespeel, nege gewen) gehad en was in hul tweede jaar as breiers 66.67% (12 gespeel, agt gewen) suksesvol.
Waar De Villiers egter in sy derde jaar tot dusver 57% suksesvol is, het White in sy derde jaar as breier slegs 41% sukses behaal.
Toé het die Springbokke slegs vyf toetse uit 12 gewen.
Met drie toetse teen die All Blacks en Australië wat voorlê en ’n Grand Slam-toer later vanjaar is die kanse skraal dat De Villiers so swak soos White sal vaar.
’n Ontleding van dié twee afrigters se loopbane op die hoogste vlak wys ook interessante statistieke wat verband hou met bewerings dat De Villiers met “White se span” suksesvol is.
White het slegs vier van die 38 spelers wat onder hom Springbok geword het in sy beginspan gehad vir die eindstryd van die Wêreldbeker-toernooi in 2007. Hulle was JP Pietersen, Frans Steyn, Bryan Habana en Fourie du Preez.
Elf spelers was dus nie White se “produkte” nie.
De Villiers het op sy beurt drie van die 24 nuwe Springbokke onder hom in sy beginspan gehad vir verlede Saterdag se toetswedstryd in Brisbane.
Hulle was Zane Kirchner, Gio Aplon en Morné Steyn.
Sewe van die Brisbane-span het in White se tyd Bok geword. (Habana, Wynand Olivier, Ruan Pienaar, Pierre Spies, Ryan Kankowski, BJ Botha en Gurthrö Steenkamp).
Statistieke wys dat albei afrigters goed gevaar het wat transformasie betref.
Sestien van White se 38 nuwe Springbokke was spelers van kleur (42%), terwyl elf van De Villiers se 24 (46%) in dié kategorie val.
Albei breiers het die Drienasies-kroon een keer gewen, maar vaar andersins nie te waffers in dié reeks nie.
White se span het sewe uit 17 Drienasies-wedstryde gewen, terwyl De Villiers tans met sewe oorwinnings uit 15 spog.
Met die Wêreldbeker-toernooi wat volgende jaar in Nieu-Seeland gespeel word, moet ’n mens ook na die breiers se vertoningslys daar kyk.
Die Springbokke het onder White nooit in vier jaar daar gewen nie en hul gemiddelde telling was 18-31.
Dié syfer vertel egter nie die volle verhaal nie, want die 2007-span was sonder 20 van sy senior Bokke.
De Villiers se span het reeds vyf keer in Nieu-Seeland gespeel en twee keer gewen, met ’n gemiddelde telling van 20-28.
Nog iets wat redelik ooreenstem, is die getal punte wat teen die All Blacks in Nieu-Seeland afgestaan is.
White se vier nederlae het drie tellings van 30 of meer punte teen die Bokke ingesluit.
In 2005 het die Springbokke met 27-31 verloor, in 2006 was die telling 17-35 en in 2007 was dit 6-33.
De Villiers se nederlae in 2010 was amper soortgelyk: 12-32 en 17-31, met die telling in die 2008-nederlaag in Wellington 8-19.
Jake se Bokke
Húlle het Springbokke onder Jake White geword: Henno Mentz, Fourie du Preez, Jacques Cronjé, Eddie Andrews, Gerrie Britz, Hanyani Shimange, Tim Dlulane, Solly Tyibilika, Gurthrö Steenkamp, Michael Claassens, Bryan Habana, Jongi Nokwe*, Tonderai Chavhanga, Ricky Januarie, Gary Botha, Meyer Bosman, Wynand Olivier, Johan Muller, Akona Ndungane, JP Pietersen, Chiliboy Ralepelle, Pierre Spies, BJ Botha, Ruan Pienaar, Bevin Fortuin, Jaco Pretorius, Frans Steyn, Kabamba Floors, Waylon Murray, Luke Watson, Bismarck du Plessis, Jannie du Plessis, Peter Grant, Heinke van der Merwe, Ryan Kankowski, Wian du Preez*, Barend Pieterse*, Tiaan Liebenberg*. (* nie toetse gespeel).
Peter se Bokke
Húlle het Springbokke geword onder De Villiers: Andries Bekker, Brian Mujati, Tendai Mtawarira, Odwa Ndungane, Schalk Brits, Adriaan Strauss, Heinrich Brüssow, Earl Rose*, Morné Steyn, Zane Kirchner, Heini Adams*, Juan de Jongh, Francois Hougaard, Riaan Viljoen*, Alistair Hargreaves, Ashley Johnson*, Bandise Maku, Dewald Potgieter, Davon Raubenheimer*, Jean Deysel, Gio Aplon, Bjorn Basson, Francois Louw, Flip van der Merwe. (* nie toetse gespeel).
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24