Semenya het 'geweet' sy gaan wen
2009-08-25 17:51
Pretoria – Caster Semenya was Dinsdag opgewonde toe sy vertel het hoe sy geweet het dat sy die 800m by die Wêreldkampioenskappe in Berlyn gaan wen.
“Ek het leiding geneem in die 400m en ek het hulle doodgemaak, hulle kon nie bybly nie. Ek was in die laaste 200m verheug want ek het geweet,” het sy aan joernaliste gesê nadat sy president Jacob Zuma ontmoet het.
Die kampioen het Dinsdag skaam en teruggetrokke voorgekom, maar nadat sy gevra is om haar oorwinning te beskryf het sy uit haar dop gekruip.
“Dit was lekker om ‘n goue medalje te wen en dit huis toe te bring. Dit was die eerste keer in my lewe en dit was 'n ondervinding man, die wêreldkampioenskappe, seniors, ek kon dit nie glo nie.”
Zuma, wat haar ‘n “goue meisie” genoem het, het vroeër gesê dat gerugte oor Semenya se geslag verkeerd is en dat haar oorwinning vroulike prestasies, mag en krag tentoonstel.
“Mejuffrou Semenya het die wêreld herinner aan die belangrikheid van die reg tot menslike waardigheid en privaatheid wat alle mense moet kan geniet.”
Zuma het gesê dat Makhenkesi Stofile, die minister van sport en ontspanning, aan die Internasionale Atletiek-federasie (IAAF) geskryf het en hy het gesê dat hulle die saak sal opvolg.
“Dit is een ding om die bepaal of ‘n atleet ‘n onregverdige voordeel bo die ander atlete het, maar dit is ‘n ander ding om ‘n eerlike, professionele atleet in die verleentheid te stel,” het Zuma gesê en sy ondersteuning aan Semenya en haar familie gegee.
“Hou aan om trots te loop mokgadi, ons is trots op jou, ons is lief vir jou. Hierdie gebeure moet nie ons aandag aftrek van die vieringe van jou uitstaande prestasies op die baan nie.”
- Sapa