Te koop: Oulike baba
2009-12-29 07:46
Marelize Potgieter
Kaapstad. – ’n Ma het verlede week kwansuis haar babaseuntjie in ’n geklassifiseerde advertensie op die internet te koop aangebied.
Dié advertensie met die woorde: “Nice cute baby boy for adoption” is Woensdag verwyder sowat ’n uur nadat dit geplaas is op Dealfish, ’n advertensiemaatskappy vir gratis geklassifiseerde advertensies van die MIH Internet Africa-groep. Dis nie bekend of dit dalk iemand se idee van ’n grap was nie.
Volgens Sharon Knowles, hoof van Dealfish, kon sy nie haar oë glo toe sy die advertensie sien nie. Sy en haar kollegas het aan die vrou e-pos van hul persoonlike e-pos-adresse gestuur om meer inligting oor haar te bekom sodat hulle haar by die polisie kon aangee.
“Ons het haar gevra hoeveel sy vir die baba wil hê en waar sy bly, maar sy het nooit gereageer nie.”
Volgens Knowles moet adverteerders aandui in watter dorp hulle blootstelling vir hul advertensie wil hê.
Toe hulle die saak verder ondersoek, het hulle agtergekom die baba is in Kaapstad, Bloemfontein, Port Elizabeth, Durban, Pretoria, Oos-Londen en Johannesburg geadverteer.
Dealfish se beleid is om alle advertensies wat nie met hul beleid en etiese kodes ooreenstem nie, uit te vee en die e-posadres wat op die advertensie verskyn het, is intussen geblokkeer.
Volgens Marié Louw, maatskaplike werker van die provinsiale departement van maatskaplike ontwikkeling in Kaapstad wat in aanneming spesialiseer, kan dié daad as kinderhandel geklassifiseer word.
“Geen ouer mag tydens ’n aannemingsproses geld ontvang nie. Dit is onwettig.”
Volgens haar moet streng wetlike prosedures tydens aanneming gevolg word.
- Die Burger