Navorsing kan renosters help
2010-07-29 10:46
Baanbrekernavorsing deur wetenskaplikes van die Universiteit van die Vrystaat sal binnekort ingespan kan word in die stryd teen die skrikwekkende stroping van renosters in die land.
’n Skokkende 136 renosters is reeds sedert begin vanjaar in Suid-Afrika gestroop.
Wetenskaplikes aan die UV is betrokke by ’n navorsingstudie wat sal help om die oorsprong van enige suidelike witrenosterproduk aan ’n spesifieke geografiese ligging te koppel.
Mangaliso Radebe, assistentdirekteur van mediaskakeling, sê die inisiatief is van die Nasionale Dieretuine van Suid-Afrika.
Prof. Paul Grobler, die hoof van die projek in die UV se departement genetika, sê die navorsing kan selfs lei tot die identifisering van die individuele dier waarvan ’n produk bekom is.
“Dit sal nie alleen wetstoepassingsagentskappe in staat stel om met sekerheid te bepaal of renosterhorings wat onwettig op die internasionale swartmark verhandel word, hul oorsprong in Suid-Afrika het nie, maar ook uit watter streek van Suid-Afrika die produk afkomstig is,” sê hy.
Voorts word verwag dat die bykomende kennis ’n betekenisvolle impak op die onwettige handel in renosterhorings sal hê en ’n kragtige wettige wapen sal bied om renosterhoring-smokkelaars en -handelaars aan bande te lê.
Die navorsing behels die identifisering van klein verskille in die genetiese kode tussen witrenosterbevolkings in verskillende streke van Suid-Afrika.
“Elke spesie se genetiese kode is uniek en bestaan uit vier nukleotiedbasisse wat van een geslag na die volgende oorgedra word. Wanneer een nukleotiedbasis in ’n individu verander of muteer, word hierdie gemuteerde basis ook deur die individu se nageslag oorgeërf,” sê Grobler.
Indien hierdie veranderde basis na baie geslagte in minstens 1% van die individue van ’n groep teenwoordig is, word dit beskryf as ’n enkel-nukleotied-polimorfisme (ENP).
Die span is besig om ’n volledige lys van alle ENP’s saam te stel wat by witrenosters, afkomstig uit verskillende streke in Suid-Afrika, aangetref word.
Die werk word in samewerking met die maatskappy Inqaba Biotech van Pretoria gedoen, wat die ENP’s help identifiseer.
Radebe sê die volledige navorsingspan is prof. Grobler, Christiaan Labuschagne, ’n Ph.D.-student aan die UV, prof. Antoinette Kotze van die Nasionale Dieretuine en ook geaffilieerde professor aan die UV, en dr. Desire Dalton, ook van die Nasionale Dieretuine.
- Volksblad