Ons irrasionele rituele
2009-11-24 08:27
Raar, maar waar: dit is dikwels lonend om onnadenkend en irrasioneel te wees.
Neem troues. In wese is dit seremonies met 'n uiters nougesette protokol: Bruid in wit rok. Bruidegom in snyerspak. Troumars. Gaste staan. Skoonpa gee bruid weg. Preek. Ringe. Soen. Konfetti. Onthaal. Bruid beskryf as mooiste ovumdraer op gods groene aarde. Dans. Troukoek kerf. Kousband en ruiker slinger. Bedankings. Bruidegom doodgil. (Alles voorafgegaan, natuurlik, deur die geginnegaap oor die grootte van ‘n edelgesteente.)
Siedaar: ‘n Spesiale herinnering.
Die seremonie maak egter nie meer heeltemal sin nie. Geen regdenkende vrou sal haarself vandag as haar pa se eiendom, se besitting, se ding, beskou nie – en tog oorhandig pa’s met reëlmaat simbolies hul “besittings” voor ‘n kansel aan ‘n nuwe “eienaar”.
Geen regdenkende man sal vandag dink dat vroue onbelese, tweedehandse wesens met halwe breine is nie – en tog beskryf duisende mans hul bruide tydens huweliksonthale as die mooiste goed op aarde. Asof dit die belangrikste kwaliteit is waaroor vrouens kan beskik: skoonheid. (To hell and gone met breinkrag en sakevernuf en ‘n linguistiese aanleg of wiskundige vermoëns. Opgetofte buuste en weggesteekte puisies. Dis al wat tel.)
Niemand glo regtig dat die persoon wat die ruiker of die kousband vang volgende gaan trou nie, maar ons baklei om die sweterige materiaal of papgedrukte stingels (of vermy dit) asof dit regtig gaan gebeur.
Dit pas nie meer by die res van ons 21ste eeuse oortuigings nie, maar sodra ‘n troue aanbreek, neem ons deel met oorgawe. So asof ons ons breine afskakel ten einde betekenis te skep.
Ons doen dit dikwels. Ons dink nie altyd aan die semantiek van liedere wat ons in die kerk sing nie – ons dreunsang (of skrou en hef ons hande ter buisligte) maar net. Ons bely tydens die doopritueel dat ons ons kinders nie uit gewoonte of bygeloof met water besprinkel nie, maar dikwels is dit presies wat ons doen. Die apostoliese geloofsbelydenis resiteer ons soos robotte. Ons glo nie regtig meer dat ‘n kerkklok demone van ‘n kerkgebou af moet wegweer nie, maar kom Sondag, dan lui ons die ding.
Daagliks voer ons ons rituele uit (wat natuurlik nie tot godsdiens beperk is nie), al weet ons nie werklik meer hoekom ons dit doen nie. Die rituele raak hul eie bestaansrede; die uitvoering daarvan word sinoniem met sin en betekenis.
Om protokol te volg teen alle koste is deel van wie ons is. Die rituele wat waarskynlik vir buitestaanders lyk soos dakbalke wat ons in ons oogkaste rondkrui, is iets wat ons self koester. Wat vir ander snaaks lyk, is vir ons van uiterse belang – soms selfs heilig.
Daarom wil Eugene Terreblanche die boererepublieke laat herleef. Jy dink dit is absurd – vir hom is dit deel van ‘n diepe oortuiging van ‘n godgegewe roeping.
Daarom wil Julius Malema private bates nasionaliseer en die politieke ideale van ‘n vorige eeu se vryheidsvegters laat herleef. Jy dink dis malligheid – vir die armstes van die armstes wat na hom opkyk en waarskynlik nooit ‘n sent van Die Korporasie se winsbejag sal sien nie, maak dit volkome sin.
Daarom het Ras Dumisani die volkslied op internasionale televisie uitgeforseer. Schalk Burger was gebelg. Ras het gedink dit was pragtig.
Soms, reken ek, is ons almal maar breindood. Miskien moet ons dit erken, in stede daarvan om tydens debatte (oor ‘n kwessie soos, sê, godsdiens in skole) te maak asof ons die bakermat van rasionaliteit is. Dalk is dit wat verdraagsaamheid regtig is – om daarvan bewus te wees dat die balke in ons almal se oë nie net bloot dáár is nie, maar dat ons dit boonop teen alle goeie verstand skaaf en vernis.
Laat hy wat nog nooit ‘n kousband probeer vang het nie die eerste ruiker slinger.
– Johan Swarts is 'n skrywer, vervaardiger en sosiale mediakenner. Hy is 'n behendige fabriseerder van digitale media, lief vir filosofie en verknog aan musiek. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za.
Stuur jou kommentaar aan Johan
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.