Vyf meter lange krokodil eet meisie
2010-02-09 05:44
Sao Paulo, Brasilië - 'n Krokodil wat 'n elfjarige meisie wat in 'n spruit geswem het, opgevreet het, is deur die owerhede doodgeskiet.
Luidens berigte Dinsdag is die reptiel gedood met sy prooi nog in sy mond.
Die krokodil, wat vyf meter lank is, het die meisie Maandag glo gegryp toe sy saam met vriende geswem het naby die dorp Guajara Mirim. Volgens die plaaslike koerant Correio Popular de Rondonia is die meisie geïdentifiseer as Gigliane do Nascimento Bira.
Haar 16-jarige broer moes hulpeloos aankyk toe sy onder die water ingesleep was deur die krokodil, wat glo 350 kg geweeg het.
Die korkodil is opgespoor nadat reddingspersoneel vir sowat sewe ure na die meisie gesoek het. Sy was glo nog in die reptiel se mond, en toe skiet die reddingspersoneel die krokodil dood.
- Sapa-AFP