Grootste offensief nóg teen Taliban
2010-02-09 09:39
Leopold Scholtz
Den Haag - Sowat 4 000 soldate uit Brittanje, Amerika en Afganistan berei hulle voor op die grootste offensief in die geskiedenis van die oorlog teen die Taliban, lui berigte in verskeie Europese en Amerikaanse media.
Die presiese datum waarop dit gaan begin, word geheim gehou, maar alles dui daarop dat dit vandeesweek kan wees. Die beplanners, onder leiding van die Amerikaanse genl. Stanley McChrystal, het die element van verrassing doelbewus prysgegee deur bepaalde besonderhede oor die offensief met die media te deel – klaarblyklik om die Taliban vooraf te intimideer.
’n Britse Navo-woordvoerder, genl. Gordon Messenger, het aan Sky News gesê: “Die doelbewuste oogmerk is om die Taliban in die teikengebiede die keuse te gee om hul wapens neer te lê, nie te veg nie en deel van die legitieme gemeenskap daar te word, of om te veg.
“En as hulle verkies om te veg... sal hulle aan oorweldigende magte blootgestel en verslaan word.”
Die doel van die offensief is om die Taliban te verdryf uit die laaste dele van die provinsie Helmand wat hulle nog oorheers.
Luidens berigte het spesmagte reeds in vestings van die Taliban inbeweeg om die beweging se plaaslike leiers dood te maak en hul vegters leierloos te laat.
In die verlede was daar ook dergelike operasies. Toe het die aanvalstroepe die omgewing egter verlaat nadat hulle die Taliban verdryf het, waarna laasgenoemdes eenvoudig teruggekeer het.
In teenstelling hiermee is die idee dat die verowerde gebiede dié keer permanent beset sal word. Dan kry die Taliban geen kans om diegene wat met die Navo-troepe wil saamwerk te straf nie, word veiligheid en stabiliteit vir die plaaslike bevolking verseker en word dit makliker om hul lojaliteit te wen.
* Op die jaarlikse veiligheidskonferensie in München het Navo se sekretaris-generaal, Anders Fogh Rasmussen, gesê die koalisie wat die oorlog in Afganistan veg, moet verbreed word om ook belangrike rolspelers soos China, Rusland en Indië in te sluit.
- Die Burger