Yanks se sport laat TV-rekord spat
2010-02-09 04:46
New York - Die New Orleans Saints se oorwinning oor die Indianapolis Colts tydens die 2010 NFL Superbowl het die rekord opgestel vir die meeste Amerikaanse kykers ooit vir 'n televisie-uitsending.
Dié wedstryd het meer as 106 miljoen mense voor die kassie laat sit - dit breek die rekord van die finale episode van die gewilde weermagreeks M-A-S-H, wat in 1983 sowat 105,87 miljoen kykers gehad het.
Hierdie bevinding is gemaak deur die groot data-analis Nielsen Co.
"Dit (die NFL-wedstryd) was een van daardie magiese gebeurtenisse wat jy nie gereeld in sport sien nie," het Sean Mcmanus, hoof van CBS news and Sports gesê.
Daar bestaan egter 'n moontlikheid vir foute in sulke analises, en Nielsen se raming is bloot 'n nie-amptelike skatting. Die finale getalle behoort deur die loop van Dinsdag beskikbaar wees.
- Sapa-AP