Brangelina dagvaar poniekoerant
2010-02-09 05:25
Londen - 'n Londense regsfirma sê Brad Pitt en Angelina Jolie gaan 'n Britse poniekoerant, wat berig het dat hulle uitmekaar is, dagvaar.
Keith Schillings van Schillings-prokureurs het Maandag in 'n verklaring gesê die ster-paartjie het regstappe teen News of The World begin.
Die koerant het berig dat Pitt en Jolie ooreengekom het om hul bates te verdeel en reëlings gemaak het vir toesig oor hul kinders.
Schillings, wat Pitt en Jolie verteenwoordig, het gesê die berig het "valse en indringerige" bewerings gemaak.
Hy het gesê die poniekoerant wou nie die berig terugtrek en die paartjie om verskoning vra nie.
Volgens Schillings het Sorrell Trope, skeiprokureur in Los Angeles, gerugte dat hy in kontak met die paartjie is, ontken.
– Sapa-AP