Polisiemanne vas vir korrupsie
2010-01-29 05:07
Johannesburg – Twee polisiebeamptes van die Wes-Kaap is Donderdag in hegtenis geneem vir korrupsie nadat hulle glo in dwelmhandel betrokke was en verskeie gevangenes onreëlmatig vrygelaat het.
Volgens supt. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, was die beamptes deel van die provinsiale teenmisdaadeenheid.
“’n 30-jarige konstabel van Grassy Park het verskeie dwelmhandelaars glo vooraf gewaarsku oor die polisie se beplande klopjagte. Hy het glo geld in ruil vir dié inligting ontvang.
“Die Valke het ook ‘n 38-jarige polisieman in Vishoek vasgetrek nadat hy glo verskeie verdagtes uit aanhouding vrygelaat het sonder dat die nodige dokumente verwerk is,” het Traut gesê.
Beide verdagtes sal Vrydag in Simonstad in die landdroshof verskyn.
– Sapa