Kind op 1ste skooldag vermis
2010-01-18 08:58
André Damons
’n Sesjarige seun van Vlakfontein, suid van Johannesburg, het Woensdag op sy eerste skooldag vermis geraak nadat hy vermoedelik ná skool op die verkeerde bus geklim het.
Knowledge Tshabalala was volgens sy ouma, Rosemary Tshabalala (54) by wie hy bly, baie opgewonde daaroor om met sy skoolloopbaan by die Olifantsvlei Primary School naby Eikenhof te begin en vir die eerste keer met die skoolbus huis toe te ry.
“Die dag voor skool was hy opgewonde en toe ek hom by die skool los, het hy baie gelukkig gelyk.”
Volgens Tshabalala moes Mlungisi, Knowledge se ouer broer, hom ná skool kry en saam met hom op die bus huis toe ry.
Dit het nie gebeur nie.
Mlungisi het gesê hy het Knowledge nie ná skool gesien nie.
Tshabalala het Knowledge Vrydag by die Lenasia-polisiekantoor as vermis aangemeld.
Volgens Tshabalala het hulle sy ma Thobile (30), wat swanger is en elders bly, gister eers van sy verdwyning vertel. Sy het net begin huil en sukkel om dit te verwerk.
“Hoekom neem iemand hom nie na ’n polisiekantoor nie? Hoekom sê hy nie vir mense waar hy bly nie?” wou die ouma weet.
Die polisie vermoed volgens insp. Gordon Billing, polisiewoordvoerder, geen misdryf nie en het in Eikenhof navraag oor hom gedoen en pamflette uitgedeel. Billing het enigiemand met inligting gevra om speurkonst. Moses Mogano by 0833293709 of die Mondeor-polisiekantoor by 011 433 5400 te bel.
- Beeld