100 grondgrypers beset plaas
2009-10-09 08:55
Buks Viljoen
Johannesburg - Whiskey Kgabo, ’n plaaseienaar van Trichardtsdal naby Tzaneen, Limpopo, het hom en sy vrou eergisternag in hul plaashuis toegesluit nadat ’n groep van sowat 100 mense sy plaas beset het.
Dié grondgrypers maak glo daarop aanspraak dat hulle die wettige eienaars van die plaas Balloon is. Volgens Kgabo het hy eergisteroggend vreemde mense op sy plaas gesien, maar hulle is later daar weg.
“Laat die middag het 11 bakkies vol mense by die opstal opgedaag.
“Hulle het ’n reuse-vuur op die grasperk reg voor die huis gemaak, drank uitgepak en musiek begin maak.”
Toe Kgabo navraag doen, is hy ingelig dat die groep, wat hulself as die Banareng-ba-Mantjana-gemeenskap voorgestel het, die grond opeis omdat hulle glo die wettige eienaars is.
“Die plaas is reeds in 2005 ingevolge ’n gewillige koper/gewillige verkoper-ooreenkoms aan die staat verkoop.”
Die staat het egter nog net R2 miljoen, sowat die helfte van die ooreengekome verkoopprys, uitbetaal.
’n Ooreenkoms is destyds bereik dat Kgabo op die plaas kan aanbly en voortgaan met sy boerdery totdat die res van die geld aan hom betaal is.
Die grondgrypers het die hele nag op die grasperk naby die opstal feesgevier.
Kgabo het in ’n stadium die Maake-polisiekantoor gekontak om die groep te verwyder.
“Hulle het die plaas besoek, maar geweier om op te tree omdat die grondgrypers gesê het hulle gaan geen skade aan die eiendom aanrig nie.”
Gisteroggend het die groep sy plaaswerkers van die plaas verjaag terwyl hy dorp toe was om sy vrou, Magadi, by die werk te gaan aflaai.
Teen gistermiddag het die polisie weer by die plaas opgedaag en die betreders verwyder nadat die grondeisekommissaris van Polokwane hulle (die polisie) se hulp ingeroep het.
Volgens Kgabo is daar nou ooreengekom dat ’n vergadering Saterdag (môre) tussen die grondeisekommissaris, Kgabo, die polisie en die gemeenskap gehou sal word om die verwarring op te klaar.
“My werkers is darem nou al terug in die kampong op die plaas, maar hulle is te bang om te begin werk omdat hulle geïntimideer word.”
Pogings van Beeld om kommentaar by die polisie en die grondeisekommissaris te kry was vrugteloos.
Nie een van die twee het hul telefone gister beantwoord nie.
- Beeld