Semenya ontvang berading
2009-09-13 13:23
Kaapstad - Suid-Afrika se vroue 800m wêreldkampioen ontvang traumaberading.
Dít volg op die skokgolwe wat die wêreld ingestuur is oor dat Caster Semenya glo tweeslagtig is, berig The Guardian.
Nadat Semenya verlede maand die goud gegaps het in haar item in Berlyn, het haar sterk liggaamsbou vrae gelig oor haar geslag. Geslagstoetse het getoon dat haar testosteroonvlakke baie skerper styg as dié van gewone vrouens.
Sy het onttrek vanuit 'n wedren wat Saterdag moes geskied, en toe sê Phiwe Mlangeni-Tsholetsane, woordvoerder van Atletiek Suid-Afrika (ASA) dat Semenya tans berading ontvang.
Sy het egter ontken dat die atleet selfmoordneigings koester.
"Sy het nie selfmoord genoem nie. Sy is 'n baie sterk en doelgerigte jong vrou. Maar die laaste paar dae was ongelooflik moeilik."
Suid-Afrikaanse owerhede het Sondag vir die tweede agtereenvolgende dag vergader om die kontroversiële saak te bespreek.
Internasionale owerhede het vroeër gesê die utislae van Semenya se toetse sal in November beskikbaar gemaak word.
Die kans is egter skraal dat sy van haar medalje gestroop gaan word.
Donderdag het Australiese media berig dat haar toetse uitgelek het en dat sy nie 'n baarmoeder of eierstokke het nie, maar wel interne testikels wat manlike hormone vrylaat.
"Hierdie nuutste bewering is so groot dat die saak nou meer is as wat ons kan hanteer. Al wat ons kan doen is om vir Caster te help," het Mlangeni-Tsholetsane gesê.
Sy het bygevoeg dat Semenya al haar verpligtinge en onderhoude gekanselleer het. "Sy ontvang traumaberading. Elke dag ontmoet sy met sielkundiges wat haar probeer help om alles wat rondom haar gebeur te verwerk."
- Sport24