Caster ‘kan derduisende verloor’
2009-08-26 06:33
Wilhelm de Swardt
Johannesburg. – Caster Semenya kan waarskynlik derduisende rande aan inkomste verloor as Atletiek Suid-Afrika (ASA) weier om met die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) saam te werk sodat daar eens en vir altyd duidelikheid oor haar geslag verkry kan word.
Leonard Chuene, voorsitter van ASA, was gister op ’n nuuskonferensie hewig ontsteld oor wat hy beskryf as die IAAF se openbare vernedering van Semenya. Hy het gedreig om die IAAF tot die bitter einde toe die stryd aan te sê om haar regte as vrou te beskerm.
’n Betroubare bron na aan die Suid-Afrikaanse span het egter gister gesê Chuene se oorlogspraatjies kan Semenya dalk duur te staan kom.
Dit is bekend dat die organiseerders van groot internasionale byeeenkomste oor hul voete sal val om te verseker dat soveel moontlik van die wêreld se bestes deelneem.
’n Wêreldkampioen kan maklik tussen $20 000 (sowat R160 000) en $30 000 (sowat R240 000) ontvang net om by ’n groot byeenkoms op te daag.
Maar hulle sal nie die uitnodiging rig solank daar vrae gevra word oor of sy wel ’n vrou is nie.
Hoe gouer die vraag oor haar geslag uit die weg geruim word, hoe vinniger kan sy haar hardlooptalent gebruik om geld te maak.
- Die Burger